Category Archives: Tenerife

Tenerife

Ek wil al hoe lank iets opsit oor Tenerife, die pragtige eiland in die Kanariese eiland-groep daar aan die weskus van Noord Afrika.

Hier is ‘n kykie op ‘n suid-weste. Die suid-ooste kant is droog, maar sodra jy anderkant die berg is, is daar piesang plantasies.

Ek weet nie watter eiland se berge sien jy daar aan die oorkant nie.

Hulle lê wes van die Wes-Sahara en is vir eeue lank bewoon deur Berbers. Die Spanjaarde het hulle ingeneem en oorgeneem etlike eeue gelede, maar daar is nog baie Berber bloed op die eiland. Hulle is sedert die Spaanse oorname Rooms, in teenstelling met hulle verwante op die kontinent.

Baie aangename mense.

Saam met die Spaanse oorname het daar ongelukkig ook vernietiging van die plaaslike ekosisteme gekom.

Feitlik die hele eiland was oortrek met woude toe die Spanjaarde daar aangekom het. Daar is maar min van oor. Hulle het baie daarvan afgebrand vir landbougrond.

Die oorsponklike inwoners het hulle seker byna dood gehuil. Ek weet ek sou. Wie weet hoeveel diere is dood?

Daar was groot palmwoude ook  van hulle eie inheemse palm, die kanariese eilandpalm (phoenix canariensis).

Dis seker Suid-Afrika se mees ikoniese palm. Jy sien een langs elke Herbert Baker gebou 🙂

Hulle groei nog op Tenerife, dis die natuurlike woud wat so te sê uitgeroei is.

Hier is ‘n paar aangeplantes wat by die see staan.

Wens ek het meer geweet van die ander unieke spesies wat daar ontstaan het sedert die eilande se vulkaniese oorsprong. Daar is letterlik duisende.

Hier is ‘n paar.

Die laaste vier groei aan die suid-ooste kant waar dit droog is. Ek wens ek kon jou meer van hulle vertel.

Die meeste toeriste gaan bly ook daar aan die suid-ooste kant van die eiland.

In die noorde is die weer so sleg hulle moes die lughawe skuif! Nadat twee vliegtuie met mekaar gebots het oor die swak sig, helaas. En dit terwyl hulle al besig was om die sogenaamde Tenerife Sur lughawe in die suide te bou.

Teen die berg kan jy ‘n kandelaar euphorbia sien.

Hulle het die enigste eetbare euphorbia waarvan ek nog gehoor het. Hy word gebruik vir kougom. Balsem euphorbia as ek reg onthou. Een van my foto’s lyk vir my na hom, maar ek sal nie my kop ‘n blok sit nie.

Meesal is die sap van die euphobia’s toksies. Enetjie word gebruik om vis te vang. Jy gooi van die takke in die water en dit verlam die visse. Dis ook die rede waarom jy siek word as jy braai op Tambotiehout. Dis verlangs familie en die sap is toksies.

Dis so ‘n unieke mooi eiland, ek weet nie waar om al die foto’s te sit nie.