Category Archives: Argentinië

Casava tjips

WP_20160528_003

Dalk ken jy Casava, ook Manoic of Yuca genoem, maar vir my was dit nuut, so ek moes eers opkyk wat om daarmee te maak. Blykbaar moet jy hom skil, so, so gemaak. Die mes hou so ‘n styselagtigheid oor

DSC01350

DSC01347

Dis in my middeleeuse kombuisie gedoen..

Jy kook dit eers so 15 minute voor jy dit braai.

DSC01346

DSC01348

Baie mense sal dit seker mooier sny maar toemaar

DSC01349

hulle eet dit met pienksous

DSC01351

daars die pienksous, bietjie in die koelte, maar vandag is ‘n reëndag

WP_20160528_001

In Argentinië is die gevoel van vergane glorie nooit ver weg nie.

En dalk veel langer vergaan as wat ons ooit kan dink, daar is blykbaar plante in Suid-Amerika wat in ‘n vroeër era geneties gemanupileer is om dit te ontgif. Hulle reken dit het te doen gehad met klimaatverandering in die streek. Die mense kon nie meer hulle tradisionele gewasse plant nie, toe ontgif hulle van die meer geharde inheemse plante. En dit lank voor Columbus of Magellaan of wie ookal eerste hier aangeland het.

Maar nou ja, iemand moes daai piramides gebou het, en hulle was beslis nie stupid nie.

Tussen hakies, daar is ‘n bitter weergawe van die casava ook, jy moet hom eers uitloog voor jy hom kan eet. In die supermark verkoop hulle hom nie, daar kry jy die soet een, dié kan jy rou ook eet as die gees jou so roer.

Advertisements

Puerto Madero

Die slick moderne hawegebied van Buenos Aires.

Soos alle hawens, was die plek gehawend 🙂 Aan die einde van die 20ste eeu, begin 21ste het hulle besluit om so bietjie op te knap.

DSC00933

Redelik netjies nê. Dis een van 5 dyke voor die volgende dyk, voor die rivier.

Al die strate in Puerto Madero het vroue name. Daar is ook so ‘n lelike fonteintjie vir Maxima, koningin van die Nederlande. Sy is na alles ‘n Argentynse meisie.

As jy die vroue-brug ken sal jy hom kan uitken hierbo. Puente de la Mujer in Spaans. Eintlik praat hulle dialek hier, Rio Platens Spaans. Maar ek dink Puente de la Mujer is maar ook net so in Spaans. Hier is sy van naderby.

DSC00953

Mooi lyne.

Die taxi bestuurder wat my van die lughawe af gebring het is in my geradbraakte Spaans bedank met gracia molto.. – ek is redelik seker molto is Italiaans. Gelukkig is daar toevallig so baie Italiaans in die taal hier, ek dink nie dit het saak gemaak nie. Klink my hulle sê dalk multe nie molto nie, maar die man is seker ook nou nie ‘n idioot nie.

Die rivier waaraan die hawe lê, die rio de la Plata, is so 40 km wyd hier en die gety stoot op. Die ou hawe was so ‘n entjie op in ‘n kleiner rivier, voor hy by La Boca, in die groot rivier uitmond.

Hierdie nuwe hawe het nie daardie beskerming nie, so hulle het dyke gebou om die binneland te beskerm en ‘n veilige hawe te maak.

Hier is die tweede strook water anderkant die hawe.

Eerste standbeeld van ‘n duikafrigter wat ek sien.

DSC00940

Kry jy ook partykeer ‘n bevlieging om jou kar te was die oomblik as jy stop van die werk af?

DSC00941

Ons is nog langs dieselfde water, daar is baie van die stalletjies. Hulle choripan is soos ‘n boereworsrol. Chori- van chorizo en pan soos brood. Nogal lekker, hulle het sulke lekker sous goed ook, chumi of so iets, pietersielie, knoffel, mayo en so aan.

Die bote sê iets van ‘eko’ op die kante. Dit lyk of hulle die riete terugkap en die bodem uitbagger.

Jy sien net eende spat.

Nogal met pampasgras op die eilande. Maak seker sin, agter Buenos Aires so so 800 km pampas.

DSC00950

Die leeu van Sint Markus op ‘n pilaar, dalk was hier immigrante uit Venesië, hoewel ek niks daarvan gesien het nie.  Die swaard van Jakobus is hier die simbool van die bank van Galisië. Ek weet nie dalk is die leeu ook vir ‘n bank.

DSC00952

Jy sien nog snaakser goed hier, soos die haarkapper van ons verlosser en die matskoonmakers van (ons dame van) pilaar. Dis oor my kop.

DSC00954

Oor ‘n honderd jaar staan die Ginkgo Biloba bome seker nog daar, groter en nog mooier as nou. Wonder hoe gaan die geboue dan lyk.

Recoleta begraafplaas

In Buenos Aires se skuldbult, Recoleta, is die grootste necropolis in die wêreld.

Dis so moerasagtig daar jy kan nie droom van begrawe nie, so die enigste oplossing is mausoleums, bo gronds.

Priesters van die destydse orde van Recoleto het in die vroeë 18de eeu hier aangekom in wat toe die buitewyke van Buenos Aires was. Die kerkhof het rondom hulle kerk en klooster ontstaan. Hulle kerk, die kerk van ons dame van Pilaar, staan nog. Tussen hakies baie Spaanse meisies se naam is Pilaar, vernoem na hierdie Pilaar..

DSC00905

Dis ‘n yslike plek, 5,5 ha groot en met byna 4700 grafte.

Hier is die ingang

DSC00894

DSC00895blykbaar in 1822 gebou.

Dis die spogbuurt van begraafplase en net die hoogstes en bestes het daar plek. Verskeie persidente, skrywers, rykes ens.

DSC00896

Soos mens kan sien daar op links, word al die geboutjies nie goed onderhou nie. Gelukkig is daar ‘n tweedehandse mark vir die standplase en klink my gereeld word ou kiste uitgedra om plek te maak vir nuwe kopers, RIP ten spyt..

DSC00897-001

DSC00900

DSC00901Dit gaan aan, daar is meer as 5 ha van die plek.

William Brown, is ook hier gegrawe, hy is Iers gebore en word beskou as die vader van die Argentynse vloot. Lyk my die ou was besig, want ek sien baie van sy nasate hier in Buenos Aires. Dis, onverwags, – een van die tipiese gesigte van Beunos Aires.

Capture

En hier, – die stigter van die AA in Argentinië. Ek dag dis ‘n boot wat mens nodig het in die onderwêreld, maar wie weet, tye verander, dalk selfs in Hades.

DSC00899

Hierdie een is nie vir my duidelik nie, daar is ‘n dame voor ‘n groot kruis besig om ‘n menorah aan te steek.. Met die vervolgings van die Katolieke kerk in Spanje het daar natuurlik baie joodse mense oorgegaan na die Katolieke kerk en in die geheim die joodse geloof gehou. Dalk verstaan ek dit heeltemaal verkeerd.

DSC00902

Daar was ‘n reuse geelkoors epidemie in die stad rondom 1871, maar mense was gekant daarteen dat slagoffers in Recoleta begrawe word. Klink my ook beter onder die grond.. Die mense is toe in Chacarita begrawe. Dis ‘n deel verder weg van die rivier af waar die Jesuite klein chaca’s (plasies) gehad het, daarom Chacarita.

Evita is hier in Recoleta begrawe, maar haar man Juan Peron in Chacarita. Die arme ou is ‘n vreeslike ding aangedoen, iemand het hom opgegrawe en sy hande afgesaag en sy swaard gesteel. Ek weet niks van die goed af nie, maar dit klink nie goed nie..

Wat die simboliek agter hierdie een is weet ek nie, maar die reuk was ook meer as waarmee ek vir ‘n lang tyd kon saamleef..

DSC00898

Ek is daar uit voor ek Evita se graf kon opspoor.

Argentynse Pesos

‘n Nuwe ervaring in Argentinië, die bankmasjiene is leeg..

Ja; – glo dit of nie, in land nommer 38 of 39, ek is nie meer seker nie – aangekom op die lughawe en daar is 5 OTM’e elkeen sonder geld! Internasionale banke, Citi en HSBC.

Gelukkig kan ek ‘n taxi kry met my kredietkaart.

Volgende dag gaan ek op jag, sonder sukses. Elke masjien is of leeg of werk nie of is al toe. Ja, na 16h00 is die OTM’e toe, hulle werk met ure. Wat die outomaties dan nou beteken weet mens nie.

Sou ons die dame kan blameer?

DSC00873-001

Jare se monetêre en fiskale probleme. Moet sê dat jy nie kontant kan kry nie is vir my ‘n nuwe monetêre probleem.

Nou weet ek nie of die ou voor of na Evita was nie, maar hy lyk bekommerd..

DSC00875

Dalk was hy ‘n siener.

Groete uit Buenos Aires.