Tag Archives: Plante & Tuine

Narita

Tokyo het twee lughawes, Haneda, wat in Tokyo self is, en Narita, wat die dorp Narita is.

Met my eerste besoek aan Japan het ek vir drie weke Korea toe gegaan en toe terug Japan toe gevlieg. Teen daardie tyd was ek moeg om blyplek te soek en planne te maak en het besluit om sommer in Narita te bly vir ‘n tyd.

Ek het nie gedink daar is eintlik iets om te sien nie, aangeneem dis seker maar soos Kemptonpark teenoor Johannesburg.

Min het ek geweet!

Narita het ‘n duisend jaar oue tempelkompleks.

Hier is die ingang

Die eerste foto is die fonteintjie by die ingang. Elke tempel het een met water om jouself te reining. Ek het in die aand aangekom en kon nie wag om weer die tempel te besoek nie, daarom die aandbeligting.

Na  die fonteintjie kry jy die pagoda op regs.

Die tempels is van hout gemaak en aanmekaar gesit sonder ‘n skroef. Alles pas inmekaar soos lego. Wonderlik aardbewing bestand natuurlik.

En in Japan het elke tempel ook sy tuin, dis deel van die ding. In Narita is dit amper meer ‘n woud op die koppie agter die tempel.

As jy ‘n hele ent gestap het hoor jy die gedreun van water. Ek het dit gevolg en ‘n groot fontein bo-op die koppie gekry.

Agter die fontein is die kaligrafie-museum,

Eenvoud is alles in Japan. Hierdie is die werk van een van hulle mees beroemde mense.

Die uitsig op die tuin uit die museum

En as jy weer uitstap betree jy ‘n ander deel

Lanterns is baie gewild en lyk natuurlik pragtig in die aande as hulle verlig is.

Lyk of hulle so bietjie ekstra lig nodig gehad het hier. Dalk dat jy die lantern beter kan sien.

Dis eers al. Ek sal weer toertjies van Japanese tuine opsit. Dit is en bly van my gunsteling plekke in die wêreld.

Sissinghurst

Die aanloop tot hierdie mooi ou herehuis in die suide van Engeland, veral bekend vir die tuine.

Laas winter het hulle vir die eerste keer die tuine in die winter oopgemaak vir besoekers en ek het gaan kyk.

Dit was Februarie en ‘n lieflike oop dag.

Vita Sackville-West is die dame wat die tuine geplant het, en as ek reg onthou, het sy geskryf in die toring. Die toring was daar toe hulle die eiendom gekoop het en was vir haar die hoof aantrekkingskrag vir die plek.

Hier is die uitsig van bo af.

Met hops kilns soos tipies vir die streek

As jy by daardie poort uitstap is daar weilande,

die bure,

een van die mooier aansigte van die geboue

en ‘n uitsig op die toring uit die tuin.

WP_20190223_15_15_25_Pro

In die winter is daar sneeuklokkies en krokusse te sien en ook die oop roosstokke.

Blykbaar as jy ‘n roos se stam in ‘n geforseerde draai vasmaak dan blom hulle baie meer oorvloedig. Jy kan dit met enige soort roos doen, behalwe die edelrose (tea roses). In die somer moet die koepels pragtig oortrek wees van die rose.

Miskien gaan ek terug.

Is die krokusse nie ook mooi nie? Seker nie die enetjie vir saffraan nie, jammer.

 

Die ontwerper van die strukture moet beslis nie onderskat word in hierdie tuin nie.

Dis die woon-gedeelte van die huis. Ek kan te min onthou en het te veel van die herehuise besigtig, maar as ek reg onthou het hulle die plek gekoop toe dit eintlik ‘n ruïne was en sonder lopende water geleef in daai koue vir jare terwyl hulle die plek leefbaar gemaak het. Geen wonder die vrou het in die tuin begin leef nie.

As sy haar sin gekry het en in die huis kon aanbly waar sy grootgeword het, het sy nooit hierdie pragtige plek reggemaak en die tuin geskep nie.

Haar man het die strukturele ontwerp gedoen en sy die plante.

Blykbaar was sy nooit in die tuin sonder ten minste haar string pêrels nie.

En daar is die toring in al sy glorie. Lyk soos die ideale plek om weg te kruip as jy ongestoord wil skryf.

Ons tuin-gids kon nie sê watse plant dit is nie, net dat dit al weke oorvloedig blom. Moet lekker beskud wees daar agter die muur.

As ek dit nie mis het nie is dit die camelia japonica, oftewel japanese camelia. Familie van die sjinese camelia, wat die tee plant is.

Keulen

Dit wil my voorkom asof ek in die suide van Duitsland is as ek met die mense hier praat. Eintlik sit ek aan die suid-westelike punt van Afrika, in Namibië, maar hier is soveel mense wat uit Duitsland kom jy sou jou kon verbeel jy is daar.

Ek sit maar ‘n paar foto’s op van verlede somer toe ek ‘n maand of so in Duitsland bestee het. Ons begin in Keulen, ‘n hoogs industriële stad wat uit Romeinse tye kom, meesal platgeskiet is in die tweede wêreldoorlog, maar tog hulle katedraal behou het.

Vandag is hulle bekend vir hip shopping.

Vanuit my venster, op die 22ste vloer, kon ek al op die horison die skoorstene sien staan. Soos jy draai verskyn hulle een vir een.

Lyk of dit my regtig opgeval het, hier is enetjie met skemeraand.

Die arme katedraal leef daar in die middel van al die besoedeling. Kyk net hoe lyk dit van al die rook en roet.

En hulle is so trots op die katedraal. Daar is ek weet nie hoeveel honderde jare lank aan hom gewerk nie. As jy mooi luister klink dit my daar is ongeveer driehonderd jaar tussen-in wat niemand ‘n troffel opgetel het nie.

Te veel oorlog gemaak as ek reg onthou. So dit is ook nie so lank as wat hulle jou wil laat dink nie.

Hier en daar is ‘n skoon deel. Ek weet nie of die skoonmakery help nie, op die trant wat hulle aangaan gaan hulle nooit voorkom nie. En boon-op steek die vuilgoed nou so lelik af teen die skoon dele dit lyk nog slegter.

Dit lyk in elk geval of hulle genoeg werk binne het. Kyk die oulike spinnekop waarmee hulle opgaan.

As  hulle glad nie skoonmaak buite nie vreet al die gemors dalk deur die klip tot binne in die katedraal en dan het hulle eendag ook net so ‘n kampie om die mosaik vloer soos jy vandag by die ou Romeinse huise en tempels sien 🙂

Daai mosaik is gewoonlik verskillende soorte marmer en ander klip, nie gemaakte teëls nie.

Mooi vensters.

Hier is ‘n klein prentjie van die mooi tuintjies wat mense maak in die somer.

Ten spyte van die lugbesoedeling groei die plante welig.

Ek het in daai rooi en blou blok gebly. Hy het blykbaar die prys gewen vir die lelikste argitektuur van die jaar, kan jy glo.

Die uitsig was darem iets.

Op pad winkel toe het ek deur die mooiste laning bome gestap.

Net so agter die tennisbaan verby en dan langs die moskee tot oorkant die straat. Al daai fabrieke het natuurlik werkers nodig.

Ek het die mense heel saggeaard en vriendelik gevind. Blykbaar is die Keulenaars bekend as gekultiveerd en vriendelik. Maak seker sin, hulle het een van die oudste universiteite in Europa.

Soos hulle parfuum, die 4 7 11, sag en sonder te veel pretensie. Dalk bietjie outyds 🙂

Hier is die ou deel van die stad van oorkant die Ryn gesien.

en nader

Hulle het sommer vir hierdie ou ‘n duif op sy kop ingebou.

Daar is ‘n mooi museum oor die Romeinse tyd.  Die Romeine het lekker gebly daar langs die Ryn.  Die groot riviere was meesal die noordelike grens van hulle ryk.

Baie goed word nog op die water vervoer.

Ek dink daai is ‘n olietenker.

Vandag is hulle nog die grootste Rynstad.

En hierdie arme drommel is die gesig van seksueel oordraagbare siektes in Duitsland. Ek hoop van harte hy woon nie daar nie, mens sou skrik om hom op die metro te sien.

Lyk of hy ook geskrik het.

En ek hoop hulle het hom baie betaal, maar wie weet, dalk was gratis behandeling al wat hy gekry het.

Suizenji – Kumamoto

Nog op die wes-eiland (Kyushu), teen die weskus is ‘n stad met die naam Kumamoto. Hulle tuin is Suizenji.

Hy is uitgelê as ‘n miniatuur van die Tokaido-pad, ‘n ou pelgrimsroete van Kyoto na Edo, – vandag Tokyo. Dis die ou oostelike seeroete.

Daar is nog vandag’n Tokaido spoorlyn op die Shinkansen. As jy met hom ry kry jy ‘n mooi uitsig op fujisan.

Hier is die minatuur fuji in die tuin. Kompleet met sy sneeu op die top. Die tuin is volgens skaal uitgelê. Net die bome op fuji kon hulle nie klein genoeg kry nie, bonsai kan net soveel doen 🙂

‘n Ander uitsig op fuji. Wens ek kon ‘n foto kry met ‘n grassnyer op. Ek wonder of hulle ook op skaal is.

Suizenji – soos die naam jou vertel, is ‘n tempeltuin. Jy kry tempeltuine en wandeltuine.

Die ou sjinto geloof met sy rooi tempels staan langs die zen boeddisme. Die sjinto is ou Japan, zen kom uit Sjina.

Voor jy in ‘n tempel ingaan was jy eers jou hande en spoel jou mond uit. Meesal het hulle drakies by die wasbak, niks hier nie. Die water is darem altyd helder skoon. Die tuin is aangelê by ‘n fontein. Met die oog op die see van die see-roete neem ek aan.

Elke tuin moet water en koi hê. Die camelia japonica blomme is (byna) opsioneel.

Ek wonder hoe oud is hierdie den. Soms kry jy mense op lere wat met klein skêrtjies van die klossies naalde uitsny op elke groeipunt.

Moeilik om alles in te kry, Fuji is weer net so regs van die brug.

Hiroshima – Shukkein tuin

Net ‘n paar foto’s uit Hiroshima.

Baie mense het na die bomontploffing na hierdie tuin toe gevlug. Hulle is daar dood voor hulle hulp kon kry en is ook daar begrawe.

Daar staan een boom wat die ontploffing oorleef het, die res is oorgeplant.

Sien daar staan een kersieboom in bloei op die regterbank, ‘n simbool van hoop en hernuwing. Vandag ook brood nodig.