Tag Archives: Slaaie

Mengelslaai met paprika, kaas en olywe

Slaai, sprietuie, druiwe, tamatie, paprika, basilie en basilieblomme (as jy het), en olywe

Skeur die slaai en basilieblare, kap die paprika en sprietuie en meng die tamatie, olywe en druiwe by

Sny ‘n goeie kwaliteit kaas in blokkies en sit by

Gebruik ‘n slaaisous waarvan jy hou en strooi laastens die basilieblomme oor

Skep op

Ek hou van rooibos ystee, – by alles.

Advertisements

Slaai met steak, eiervrug en okkerneute

Slaai met lekker sagte blare en sprietuie

Eiervrug en okkerneute

Radyse

Steak of ander vleis wat maklik panbraai

Olyfolie

Ketjap manis (soet sojasous) of ‘n balsemiek asyn

Gemengde kruie met roosmaryn, gedroogte knoffel, sout en peper

Braai die steak in ‘n warm pan

Sny die eiervrug in dun skyfies en braai in die pan saam met die vleis

As die vleis na jou sin gaar is, haal dit uit om te rus terwyl die eiervrug verder braai in die vleissappe

Sny die eiervrug in kleiner blokkies en die vleis in skywe

Skeur die slaai, kap die sprietuie en sny die radyse in skyfies terwyl die eiervrug en steak afkoel

Meng alles in ‘n slaaibak en gooi die okkerneute by

As daar vleissap in die pan agtergebly het skink dit in die slaai in saam met olyfolie, ketjap manis of balsemiek asyn en rond af met die kruiemengsel

Myne is ‘n klein slaaitjie vir een. Maak soveel as wat jy nodig het om almal te voer wat by jou is.

Tuna slaai

Dit werk nogal lekker as jy eers jou tuna met al die souserige goed meng voor jy die slaai goed bysit.

Ek het ‘n gekroek met ‘n klaar gemengde tuna. Die tuna is gemeng met gekapte agurkies, majonaise, sout en peper en tamatiepasta.

Sny tamatie by en was en skeur slaai in.

Kap sprietuie, blare en al, en sit by.

Basilie is altyd lekker saam met tamatie, so as jy vars basilie blare het, skeur hulle by.

Avo is heerlik daarin en ook kappertjiesaad, as jy het.

Oudergewoonte het ek al weer die helfte opgeëet voor die foto. So van die kant af kan jy dit byna nie sien nie nê?

Ek geniet dit om basilie blomme te gebruik. Hulle is amper nog meer geurig as die blare. Heerlik as jy ‘n slaaisous maak. Gooi hulle in!

Daar is niks besonders aan die resep nie. Eintlik gaan dit oor die lekker sonnige somerdag in Nederland met my klein vriendinnetjie se blomkrale op die tafel.

Pers somer slaai

Gaar pasta – ek het spaghetti gehad,  dalk is rys pasta nog lekkerder.

Meng vinaigrette (myne was olyfolie en suurlemoensap) by, redelik ruim.

Gebraaide eiervrug in blokkies gesny. As jy (soos ek) vroeër in die week moesaka gemaak het en ekstra eiervrug gebraai het, is jy nou reg om dit te gebruik 🙂

Anders braai maar gou. Sny in blokkies en braai in ‘n warm pan met olyfolie. Ek sit bietjie sonneblomolie by dat die olyfolie nie brand nie.

Pers krulblaar slaai – meng by

Pesto – meng so ‘n lepel vol in. Dit gee die lekker parmesaan smaak. Jy kan nog ekstra oorstrooi as jy wil.

Ek het vergeet om in te sit, maar aspersie vir nog ‘n smaak. Vars of ingemaak sal werk.

Die Franse geniet dit om plaaslike produkte te gebruik, – die sout daar agter kom van die eiland Noirmoutier af waar hulle dit met die hand oes.

Ek het dit daar gekoop, – lekker daar oor die passage du Gois gery vir 4 kilometer oor die seebed met laagwater. Gelukkig is daar ‘n brug om mee terug te kom so jy hoef nie noodwendig 12 ure lank te bly nie 😉 Hoewel dit so ‘n lieflike somervakansie atmosfeer gehad het toe ek daar was ek sou graag sommer lank wou bly!

So ‘n draaitjie swart peper om hom af te rond is heerlik.

Groete uit Lyon

Bordeaux – koue vleis en slaai

Nou kan jy nie elke worteldeeltjie mooi sien hier nie, maar ek wou die katedraal deur die venster inkry 😉

Ek het so ‘n paar okkerneute in die gerasperde wortels gesit, probeer dit gerus. Die artappelslaai het ‘n paar snytjies pers ui in en die olywe is gevul met ansjovis. Die serano ham het hulle vir my berei in Spanje. Hier is ‘n beter foto van die bord.

Iemand gaan daai tralietjie moet verf..

Die kekerertjie slaai het snytjies radys in en veldslaai by. Ek het dit nog nie in SA gesien nie, die Hollanders noem die veldsla en die Franse noem dit mache. Strooi bietjie sesamsaad oor en rond af met olyfolie en suurlemoensap. Ek het die vinegrette gegeur met bietjie kerriepoeier. My gasvrou het 6 soorte kerrie op die speseryrak, so dit was ‘n maklike keuse.

Meng alles met ‘n vurk

en eet.

As jy my vra sal avokado baie lekker wees in daai slaai.

Kool- en appelslaai

Ons het lanklaas ‘n lekker slaairesep gehad, so hier is enetjie

‘n Halwe koolkop – gekerf

4 groen appels – gerasper

3 Peppadews vars of 5 ingemaak (of meer as jy wil) – gekerf

Korente – ‘n handvol

Sesamsaad – 3 eetlepels

Jogurt – ongegeur so ‘n paar goeie skeppe

Rasper sommer die appels in die kool in en gooi dadelik die jogurt oor. Kool is alkaliserend en saam met die jogurt keer dit dat die appels bruin word. As jy die slaai oorhou is dit môre nog nie bruin nie.

Meng die peppadews en korente by.

Rooster die sesamesaad droog in ‘n pan tot die geur vrygestel word.

Meng dit warm in die slaai in sodat die geur versprei deur al die bestanddele.

PS – As jy kerrie of chili eet is rou gekerfde kool heerlik om daarby te bedien, dit haal die brand uit jou mond uit omdat dit alkaliserend is. Die Marokkaanse kookkuns bedien dit so.

Italiaanse Pastaslaai

Noedels – al dente gekook 3 koppies

Grana Padano / Parmesaan kaas –  geskaaf genoeg

Olyf olie – genoeg

Songedroogte tamaties 10

Olywe 200 g

Geskeurde basilie – ‘n handvol

Slaaiblare soveel soos basilie

Sprietuie – blare 15

Tobasco 15 druppels

Swart peper

Nog kaas in blokkies as jy wil